Vrygespreek!
 

Die sentrale tema van die brief aan die Romeine is die idee dat ons deur die geloof geregverdig is (Rom 5:1 OAV). In die 1983 vertaling is die teks vertaal met “vrygespreek omdat ons glo”. Die meeste Christene weet dat dit hierdie idee is wat die hervorming in die hart van Martin Luther aangesteek het. Dit blyk egter dat daar min mense is wat werklik verstaan wat dit beteken om vrygespreek te wees en nog minder wat besef wat die gevolge daarvan is.

Die Engelse term “justified” word met “geregverdig”(OAV) en “vrygespreek” NAV) vertaal. Die ander Engelse term wat in nou verband staan met “justified”, is “righteousness”. In baie vertalings (insluitend Afrikaans) word daar oorwegend geen onderskeid gemaak tussen hierdie terme nie aangesien hulle dieselfde Griekse wortel het. Die Afrikaans woord vir “righteousness” is “regskapenheid” en “righteous” word met “regverdig” vertaal. Wat beteken dit om “geregverdig” (wat in die NAV deurlopend as “vrygespreek” vertaal is) te wees? ‘n Baie los betekenis van “geregverdig” is om van skuld vrygespreek te wees en dus weer “reg” te wees. Die vraag is egter, “reg” in watter sin en wat is die standaard waaraan “reg” gemeet word?

Die standaard is God se geregtigheid. Romeine 1:17 (OAV) en 3:21 (OAV) praat beide van die “geregtigheid van God”. Hoe reg is God? Wel, Hy is een honderd persent reg. Hy is te alle tye reg en in alle dinge reg. God se motiewe, Sy gedagtes, Sy dade, Sy woorde en selfs dit wat God somtyds nie doen nie, is altyd reg. God het nog nooit, en Hy sal ook nooit, iets doen wat verkeerd is nie. God is volmaak reg en Hy is volmaak regverdig.

Party mense mag volgens hulle eie standaarde dalk regverdig (of “reg”) wees, maar dit beteken nie dat hulle gemeet aan God se standaarde regverdig is nie. ‘n Lid van ‘n bende is dalk in die oë van sy mede bendelede regverdig omdat alles wat hy doen reg is teenoor hulle. Maar hy is verseker nie regverdig en reg in die oë van wetgewing en in die oë van die publiek nie. Mense mag dalk ‘n besigheidsman as ‘n regverdige man beskryf omdat hy altyd sy belasting betaal, die landswette gehoorsaam en die armes help. Tog kan hy nie naastenby aan die standaarde van God se geregtigheid voldoen nie.

Toe Paulus die brief aan die Romeine geskryf het, was baie Jode van mening dat hulle geregverdig (vrygespreek) is omdat hulle die wette van Moses nagekom en gehoorsaam het. Paulus het self gesê: “in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry (geregverdig te word), [was ek] onberispelik” Maar indien hy met God se geregtigheid gekonfronteer word, kan hy nie anders as om te verklaar: “Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste” (1 Tim 1:15). In Romeine 3:10 sê Paulus: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie.” Die probleem is dat die kwessie rondom geregverdigheid nie ‘n saak van mindere belang is nie. Sonder dit kan niemand gered word nie: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” (1 Kor 6:9 OAV). Daarom, indien niemand regverdig is nie en niemand sonder regverdiging die Koningryk kan beërwe nie, dan kan niemand gered word nie. En dit is die probleem.

Wat beteken dit om geregverdig te wees? Jy hoef nie geleerd te wees om te besef dat dit iets met die regstelsel te doen moet hê nie aangesien ons woorde soos regter en regspleging in daardie verband gebruik. Indien iemand ‘n goeie aanvaarbare verduideliking vir ‘n misstap of fout gegee het, dan sê ons dat hulle hulleself geregverdig het. Met ander woorde, hulle het hulleself reg of regverdig gemaak. Die spreekwoord sê “die doel heilig die middele” wat beteken dat solank die einddoel goed is, die gebruik van die verkeerde metode om daardie doel te bereik, geregverdig of reg is. (Hierdie is natuurlik nie waar nie aangesien God vereis dat die doel op die regte wyse behaal moet word.)

Die probleem is dat ons regverdig moet wees om in die Koningryk te kom. Ons is dit nie. Hoe word ons dan regverdig? Paulus stel dit onomwonde dat dit onmoontlik is om regverdig te word deur die Wet van Moses (of enige ander wet) te onderhou: “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek (geregverdig) word nie” (Rom 3:20).

Ons kan slegs regverdig word indien God ons regverdig sou verklaar (sou vryspreek). Met ander woorde, net wanneer God ons regverdig wil maak, kan ons regverdig word. Daar is geen ander manier nie. Maar selfs hierin is daar ‘n probleem. Indien dit sou gebeur dat God my regverdig sou verklaar in omstandighede waar ek dit duidelik nie is nie, dan maak dit dat God ook onregverdig word! God kan my nie net sonder enige regsgronde regverdig verklaar en my sondes vergewe nie. Indien Hy dit doen, verbreek Hy Sy eie Wet wat bepaal dat die skuldige moet sterwe (Es 18:4).

Die enigste oplossing was dat Jesus in my plek moes sterf terwyl Hy my sondes op Homself geneem het. 2 Kor 5:21 verklaar: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek (geregverdig) kan wees.” Aangesien Jesus my onregverdigheid geneem het en die prys vir my sonde betaal het, is dit vir God moontlik om aan my Christus se regverdigheid te gee!  Dit is net onbeskryflike Genade wat so iets kan doen. Maar dit beteken nie dat almal outomaties regverdig is nie. Daar is nog een ding nodig. Die regter moet my regverdig, of geregverdig (vry) verklaar. En wat bepaal of Hy aan my daardie regverdigheid (vryspraak) gaan gee? Geloof! Geloof is die sleutel wat vir my God se geskenk van regverdigheid (vryspraak) ontsluit.

Veral in die briewe aan die Romeine en die Galasiërs, gebruik Paulus keer op keer die frase: “geregverdig deur die geloof”. Maar daar is baie wat die werking hiervan verkeerd verstaan. Sommige mense dink dat dit die geloof is wat hulle regverdig en dat geloof dus gelyk is aan geregverdigheid. Nee! Geloof kan op sigself niks doen nie. Dit is God wat alles moet doen. In ‘n sekere sin is ons nie geregverdig (vrygespreek) deur die geloof nie maar is dit die Verlossingswerk aan die kruis wat ons regverdig maak. Dit is egter geloof wat die skakelaar is wat hierdie wonderlike verlossingswerk van God vir my in werking stel. God verklaar my regverdig op grond van die werk wat Christus gedoen het, en nie omdat ek enige iets gedoen het nie. Maar, indien ek nie sou glo nie, kan hierdie regverdigmaking en vryspraak nie teen my rekening verreken word nie. Dit is dieselfde asof iemand ‘n rekening sou oopmaak en vir my ‘n miljoen rand daarin sou deponeer. As ek nooit na die OTM gaan om die geld te trek nie, sal ek bankrot bly. Dit is daar en dit is beskikbaar maar ten einde dit te ontvang wat aan my gegee is, is dit nodig dat ek dit daadwerklik aanvaar.

Miljoene mense gaan ‘n ewigheid in die hel deurbring net omdat hulle geweier het om in geloof dit te aanvaar wat Jesus teen ‘n onberekenbare prys vir ons gedoen het. Ons kan vry en reg gemaak word en regverdig verklaar word. God het alles reeds gedoen en Hy stel dit beskikbaar aan almal wat net sal glo. “Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek (geregverdig); en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie” (Rom 10:10-11).

Hoe wonderlik is die genade en ontferming van God dat Hy sondaars soos ek, in staat stel om geregverdig en vry gespreek te word. “Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos ... Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen” (Op 1:5-6).