Vrygemaak!
 

Jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos”(Mat 1:21). Jesus het nie net gekom om ‘n boodskap van verlossing en oorwinning te bring nie, maar Hy het eintlik gekom om die werk te doen wat nodig is om mense vry te maak van hulle slawerny en sonde.

Volgens Romeine 6:6-7 “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.” Dit wat ingewikkeld blyk te wees met die eerste oogopslag, is inderdaad egter heel eenvoudig. Wanneer ons na Christus kom en wedergebore word, het ons nie twee lewens nie—die een van ons natuurlike geboorte en die een van ons geestelike geboorte nie. Ons het net een lewe—die nuwe, wedergebore lewe. Wat het met die ou lewe gebeur? Wel, ons het vir die ou lewe gesterwe. En ons het ‘n nuwe lewe in Christus ontvang. Dit is baie kragtig en dramaties en wonderlik. Maar dit is ook angswekkend. Dit is angswekkend omdat daar so baie mense is wat daaroop aanspraak maak dat hulle “wedergebore” is, maar daar is geen bewys dat die ou mens dood is en dat ‘n nuwe mens sy plek geneem het nie. Dit is steeds dieselfde ou mens met sy ou gewoontes, sonde en slawerny!

Paulus maak dit duidelik dat indien ons wedergebore is, die ou mens gekruisig is. Dit beteken dat die ou lewe met sy waardes, lewenstyl, gedagtes, sondes en verslawinge dood gemaak is. Natuurlik is dit nie iets wat ons uit onsself kan doen nie maar dit is wat die Here deur die krag van die Heilige Gees doen. Ons moet Hom bloot toelaat om dit te doen. Ek onthou ‘n voorval waar ‘n man klaarblyklik van gedagte verander het tydens die doopseremonie en hom teëgesit het tydens die onderdompeling. Net so staan ons dikwels die Here teë wanneer Hy probeer om die ou mens dood te maak. Ja, ons wil die nuwe lewe met al sy seëninge en voordele hê maar ons is nie bereid om die oue te laat gaan nie. Daar is egter geen manier wat ons wedergebore kan wees en kan vashou aan die ou lewe nie. Die oue móét sterf voordat die nuwe kan kom. En dit is presies hier waar die probleem lê. Baie het probeer om die lewe van ‘n Christen te lewe maar die ou mens het nog nie gesterf nie en die nuwe het nog nie gekom nie. Op die ou einde is alles net voorgee en ‘n eindelose stryd om iets te wees wat hulle nie is nie.

Dit is so eenvoudig: “Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde”(Rom 6:7). Nie een van die mense wat in die begraafplaas lê, doen nog sonde nie. Maak nie saak hoe afstootlik hulle lewens was voordat hulle gesterf het nie, die dag toe hulle hulle oë gesluit het, het hulle opgehou om te sondig. So eenvoudig soos dit. En net so, as ons met Christus gekruisig is, dan sal ons ophou om sonde te doen. Maar dit is die probleem. Is ons waarlik gekruisig? Is ons werklik dood?

Nou, as ons waarlik wedergebore is, moet ons die realiteit uitleef van die waarheid dat ons met Christus gekruisig is (verlede tyd). Paulus sê “So moet julle ook reken dat julle vir die sonde dood is”. (Rom 6:11OAV). Hy sê nie dat ons op iets moet reken (of dit in berekening moet bring) wat nie is nie—dit sal dan ‘n dwaling en misleiding wees. Nee, waarop ons moet reken is die waarheid. Partykeer gaan ons vir ‘n lang tydperk gebuk onder die gewig van ‘n las. Wanneer daardie las van ons gelig word, hou ons egter aan om daardie las op ons te voel en moet ons onsself voortdurend daaraan herinner dat ons nie meer gebuk gaan onder die probleem nie. Dan, een dag, dring die werklikheid tot ons deur en dan voel ons werklik vry. Op dieselfde wyse moet ons onsself voortdurend daaraan herinner dat ons inderdaad gekruisig is en dat ons onsself moet reken soos wat God ons reken—dat ons dood is “want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God”(Kol 3:3).

Toe Christus aan die kruis gesterf het, het ons op die een of ander wyse deur God se almagtige krag, saam met Hom gesterf. Hy het nie net in ons plek gesterf nie, maar ons was in Hom en het dieselfde tyd gesterf as wat Hy gesterf het. Ek weet nie hoe dit gewerk het nie, maar ek weet dat dit die waarheid is aangesien die Bybel so sê. Nie net vind ons dit in Romeine 6:6 nie, maar ook in Kollosense 3:3. Verder lees ons ook in Galasiërs 2:20 (OAV) “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Daarom moet ons nou besluit wie ons gaan glo, die bedrieër wat ons in slawerny wil hou, of die Woord van God.

Daar is egter nog meer. Ons het nie net met Hom gesterwe nie, ons het ook saam met Hom opgestaan: “Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe” (Rom 6:8). Net soos wat ons deelnemers is met Hom in Sy dood, so is ons deelnemers met Hom in Sy opstanding uit die dood. Die dood sorg vir die slawerny in sonde en die ou lewe. Opstanding sorg vir die krag om die nuwe lewe van die wedergebore mens te lewe. Ons kan nie vry kom van die sonde sonder die dood nie, en ons kan nie die krag ontvang om te lewe soos ons moet, sonder die opstanding nie.

Die opstanding is die magtigste ding wat nog ooit gebeur het. Al die elektrisiteit, al die moderne tegnologie en al die krag wat ‘n vuurpyl die ruimtes kan inskiet, sal nooit ‘n dooie uit die dood kan opwek nie. Maar die krag van God het Jesus op die derde dag uit die dood opgewek. En dit is hierdie selfde krag wat Jesus opgewek het, wat ons instaat stel om die nuwe lewe te leef. Dit is magtig. Daar is niks anders wat soos dit is nie. “… net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, [kan] ons ook so in ‘n nuwe lewe … wandel”(Rom 6:4 OAV). Daarom, dieselfde krag wat Christus opgewek het, sal ons instaat stel om die Christelike lewe te lewe!

Nou waarom is dit dan dat ons nooit die oorwinning behaal terwyl al hierdie dinge net deel van die teorie bly? Eerstens is dit omdat sommige nie werklik wedergebore is nie. Dit is baie hartseer, maar dis waar. Tweedens is daar bitter min van diegene wat wedergebore is, wat inderdaad die aangehaalde verse uit Romeine 6 glo. Dit is so dat die verse moeilik is om te verstaan, maar kan ons dit nie in ons harte vind om dit net te glo nie, vir die eenvoudige rede dat dit in die Bybel staan nie? Dit is ook nie goed genoeg dat ons sê dat ons dit glo nie terwyl ons dan optree asof hierdie dinge nie bestaan nie. Ons het nodig om te glo dat ons ou lewe dood is en dat ons opgewek is om te wandel in die nuwe lewe. Daardie waarheid moet dan so werklik vir ons word dat ons eintlik die werklikheid daarvan begin lewe.

Paulus het vir ons ‘n paar stappe in hierdie proses gegee. Eerstens moet ons hierdie dinge weet (Rom 6:3, 6, 9). Ons weet hierdie dinge deur dit te lees, te bestudeer en te oordink. Tweedens het ons nodig om dit te glo (Rom 6:8). Derdens moet ons dít reken wat God reken (Rom 6:11 OAV) en vierdens moet ons drie dinge doen: Ons moet nie toelaat dat sonde oor ons lewe heers nie (Rom 6:12), ons moet nie onsself of ons liggame beskikbaar stel vir die sonde nie (Rom 6:13), en ons moet onsself be-skikbaar stel vir diens aan God om die wil van God te doen (Rom 6:13).

Ag, mag ons maar net begin om te verstaan “… wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, … wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele … En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en sondes” (Ef 1:19-2:1)